Wanneer die liefde wen…

Gister was ‘n wonderlike dag!  Saterdag die 1ste Julie van die jaar 2017.  Ek dink eendag as ek ‘n ouma is, dan sal ek nogsteeds hierdie dag onthou.  Die dag waarop Vernon & Chantelle hulle liefde aan mekaar beloof het by Villa Paradiso en ek stukkies van diè pragtige storie kon afneem.  Die dag waarop ek met my eie oë gesien het hoe die liefde wen, altyd!

 

Ek en Chantelle kom ‘n lang pad.  Dit was vir my gister ‘n absolute voorreg om ‘n getuie te kon wees van die volkome vreugde in haar oë.  Ek dink as blydskap deur stukkies groen verteenwoordig kon word, sou Chantelle se oë ‘n perfekte groen legkaart gebou het.  Natuurlik wou ek hoor hoe hierdie pragtige liefde begin het en het die klein-dogtertjie-wat-droom-van-‘n-prins-binne-in-my so lekker gekry toe ek alles kon hoor, van die eerste spontane ontmoeting tot die lekkerste soen van hul lewe.

 

Chantelle is lieflik.  Toe die Here haar gevorm het, het Hy verseker geglimlag oor haar want haar skoonheid is ‘n spieëlbeeld van Sy perfeksie.  My sussie Maureen Grobler het haar mooi gesig ingekleur en toe ek vir haar sê – “Chantelle is pragtig nè?”, was haar antwoord – klassiek, lieflik!  Daar is iets ouwêrelds aan die lang donker lokke en die rok met al die mooi blink dingetjies vasgewerk.  O, om ‘n bruid te kan wees!  Daardie een dag wat jy jouself van kop tot toon kan optof…omdat geen geld die kyk in jou man se oë kan koop wanneer hy jou sien nie.  Ek weet nie wat ek die meeste geniet het nie – die sterre in Chantelle se oë of die louter vreugde, amper ongeloof, op Vernon se gesig wanneer sy na hom kyk en saam met hom lag nie.  My hart het sommer ‘n paar keer gaan stilstaan namens hulle.  Die liefde is MOOI, julle.

 

Kom kyk saam met my en deel in ons vreugde –

 

paartjie vreugde troue

Hy wou so graag so foto hê!  Sy kosbare geskenk styf in sy arms!  Kyk net die vreugde!

bruid bruidegom

bruid trou troue

soen paartjie troue

sonsondergang soen

trourok agterkant detail

ruiker trouruiker blomme

stralende bruid lag

 

Die liefde is mooi.  Dis geduldig, soms wag dit lank, maar wanneer dit kom, is dit volmaak.  Die liefde is so vriendelik..!  

 

My wens vir julle, Vernon & Chantelle, is dat julle liefde alles sal bedek, alles sal glo, sal aanhou hoop en altyd mekaar sal verdra.  Dat jul liefde nooit sal vergaan nie, maar dat dit sal aanhou groei, dat dit sal blom, vir ander om te bewonder en te aanskou en vir julle, om ‘n leeftyd saam te geniet.

 

Dankie dat julle my in liefde laat glo!

Op, Mnr en Mev. Anfield!!!  Baie geluk!

 

xxx Marethe

This entry was posted in Wedding and tagged , , , , , , , , , , , , , , , , , , , , .

Post a Comment

Your email is never published nor shared. Required fields are marked *

*
*