Site Overlay

Eerste liefde….

boy and girl

Oooo…hoooo…my eerste liefde! Ooo, eerste liefde!  Wiè kan nog daardie liedjie onthou? Met sy donker hare en sy donker oë, het hy my hart lam getoor!  Dink dit was Anneli van Rooyen se woorde as ek dit nie mis het nie.  In hierdie geval is dit ligte hare en groene oë!  Maar ja, die hart is lam, dis verseker.  My eersgeborene is verlief.  Die dag het aangebreek…ek het geweet hy gaan kom, ek het net nie geweet wanneer nie 🙂

Nou wel, aangesien foto’s neem maar in my bloed is, het ek besluit om die groot geleentheid te vier met ‘n paar kiekies.  Dan kan my kind dit vir ewig onthou!  Al wat ek oor het van my eerste liefde is die herinnering aan twee marmotte, Mientjie en Beertjie.  Mientjie was my marmot en Beertjie is vir my gegee deur die seun wat my hart laat galop het.  Ek het gedink Beertjie is die mooiste marmot ooit….!  Hy het seker gedink Mientjie kort ‘n man… 😉

Quinton en Isabella.  Ek het julle dopgehou so deur die week terwyl Quinton by ons kom kuier het.  Die eerste ontmoeting was ‘n mengsel van blydskap, senuwees en hope adrenalien wat deur die are bruis.  Isabella wou ewe skielik agter sit toe ons hom gaan haal.  “Jou sussie is gaaf vandag, hè Reuben?”, sê ek met so skewe glimlaggie.  As ek moet tel hoeveel keer diè twee al oor die voorste sitplek woorde gehad het…

By die stasie aangekom staan die jong man lank en kiertsregop.  Het ek gesê lang man?  ‘n Volle 1,93m lank word dit aangekondig, toe ek hom vra.  Ewe skielik besef ek my dogtertjie is nie meer my klein babatjie nie.  Ek kyk in sy oë en wat ek sien, is mooi.  My hart word rustig.  My maag gee ‘n draai, want ek LEEF my totaal in my kind se vreugde in!  Soveel, dat ek sommer verdwaal van die stasie af huis toe.  Haha!  Vroumense.

blue jeans couple

Kan julle onthou hoe mens giggel?  Enige ding wat by die ander party se mond uitkom, is net sò oulik en sò snaaks.  O, die liefde!  Alles is rooskleurig.  Hoe wonderlik om die gevoel te kan hê!  Daar is iemand op hierdie aardbol wat dink jy is PRAGTIG.  Wat ver gery het met ‘n bus, spesiaal net om vir jou te kom kuier.  Wat vir jou koffie maak en vir jou vertel hoe mooi jy is.  Selfs ek het dit geniet om ‘n man in die huis te hê, al is dit ‘n jong man vier en twintig jaar my junior.  Reuben was net so mal daaroor.  Ek dink hy het hom verbeel  hy het ‘n boetie.  Elke keer as Quinton hom beetkry en bietjie karnuffel, dan hoor ek sy vrolike gille deur die huis weergalm.  Vanoggend, na ek Quinton teruggevat het stasie toe, reken Reuben met ‘n af-lippie…”die huis is so stil, Mamma…”

couple portrait

Dis asof die twee mekaar jare ken.  Diep in my binneste wonder ek of die Here my gebed verhoor het.  Want ‘n ma bid mos maar oor sulke goeters.  Dat haar kinders net vreugde sal hê, dat hulle harte opgepas sal word soos goud.  Mens wil nie hê jou kinders moet seerkry nie.  Jy wil hulle toevou en hulle beskerm.  Seker diè dat ek bly was Quinton kom by ons kuier, en nie andersom nie, dan kan ek hom dophou met arendsoë…. 😉

laughter

Terwyl ek sit en werk bo in my studio hoor ek hoe lag hulle onder.  Ek verwonder my daaraan.  Wanneer ek afgaan om te gaan koffie maak, straal my kind se oë van blydskap.  Lyk vir my of die knaap iets reg doen, of hoe Quinton? 🙂  Lyk my jy het nie net in Isabella se hart ingekruip nie.  Enige seun wat aanbied om skottelgoed te was kry tien goue sterre in my boekie, haha!!  

holding hands

Toe vra ek maar vir hulle of ek ‘n soen-foto mag kry 🙂  Laat dit maar klink asof ek een nodig het vir my shoot, jy weet.  Ek meen wat is ‘n “couple” shoot nou sonder ‘n foto met ‘n soen!

the kiss

Ek neem gou vir oulaas ‘n mooie.  Twee langbene, lyk so mooi langs mekaar.  Isabella kla altyd sy is langer as die seuns…wel, nie diè ene nie!  Hy vat haar ver verby!  Dankie tog 🙂

tall couple love

Hulle wil nog bietjie langer in die straat afstap.  Ek vat my kamera en gaan huis toe.  Ek kyk op, met trane in my oë sê ek dankie vir my Here.  Dis so wonderlik om my meisiekind so gelukkig te kan sien!  So tussen die trane deur sien ek maar, die lug is PIENK!!  En daar, net bokant Telkom se telefoonlyn, hang ‘n wit hartjiewolk in die lug.  Toeval?  Gmphf.  Daar’s nie so ding soos toeval nie 🙂  Ek stuur vir Ouma ‘n whatsapp.  Sy is mos goed met woorde.  Skryf gou vir my ‘n rympie, vra ek, sommer net vinnig.  Hulle noem mekaar “my lief”, Ouma.  Binne minute kry ek ‘n antwoord –

love poem

 

Die erf is tjoepstil.  Ewe skielik verwonder ek my aan die droë takke en ek sien die mooiste prentjies.  Alles lyk vir my rooskleurig, nie net Quinton en Isabella se jong liefde nie…

nature

Ek dink aan God se liefde, vir ons.  Die grootste liefde wat daar is.  Ek ken Die Liefde!  

heart leaves

Mag die liefdesverhaal sommer nuwe lewe in julle eie verhale inblaas, diè wat het.  Vir die ander wat op die oomblik in ‘n alleen seisoen is, soos ek – mens is nooit alleen nie.  Die Here is altyd by jou, Sy liefde omvou jou, Sy liefde bedek jou.  Sy liefde is die mooiste liefde wat ek nog ooit beleef het.

 

LIEFDE!

Marethe xxx

 

 

 

 

 

17 thoughts on “Eerste liefde….

  1. Ag ou Mareet… hoe pik ek nou ‘n traan as ek die mooi verhaal lees. Hoe lieflik is Jong liefde nie. ❤️

  2. Ek kry trane in my oë…..my mamma hart beleef alles saam met jou. Jy weet mos ek verstaan dit so goed my maatjie. Lief jou
    LIEFDE WEN!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Copyright © 2024 . All Rights Reserved. | Chique Photography by Catch Themes